Leeupoort

Wegbreek SA verhuur verskeie selfsorg vakansiehuise in Leeupoort Vakansiedorp. Dit is geleë in in die Thabazimbi-distrik, Limpopo, op die R516, sowat 58 km vanaf Thabazimbi en 72 km vanaf Bela-Bela.

      

Hierdie bosdorpie binne ‘n geporklameerde natuurreservaat is omring deur die Waterberge en die tuiste van 50 soorte soogdiere, 170 soorte voëls en 114 boomspesies. Die wild loop in die strate en wei tussen die vakansiehuise. Hier bestaan ’n besonderse band wat deur die jare tussen mens en dier gesmee is.

Daar is heelwat wandelpaadjies wat kronkel deur ’n wye verskeidenheid inheemse bome. Besoekers het van 07:00 – 18:00 vry toegang tot die 823 ha wildskamp waar hulle kan stap, draf, fietsry of motorry. Daar is kameelperde, wildebeeste, ’n verskeidenheid boksoorte en ander wild te sien.

     

Leeupoort het ’n gematigde klimaat regdeur die jaar. Dit is warm in die somer met ’n hoë reënval van September tot April, en is bekend vir donderstorms in die middae. Gedurende die droë wintermaande bly die klimaat matig, hoewel temperature aansienlik daal in die nag.

Die welige bosveldplantegroei bied genoeg weiding vir ’n verskeidenheid wild soos kameelperde, blouwildebeeste, elande, koedoes, rooibokke, njala, vlakvarke en sebras. Dit is ’n paradys vir voëlliefhebbers.

 

 

Die ingang na Leeupoort Vakansiedorp.
Hierdie dorpie is geleë binne ‘n geproklameerde Natuurrerservaat en het ongeveer 1200 woonerwe.
Min of meer 550 inwoners bly permanent hier. Die dorp het grondpaaie en die spoedbeperking in Leeupoort is 25 km/h.

 

Langs die ingangshekke na die dorp is Leeukrans.
Daar is ’n swembad, winkel wat in basiese benodigdhede voorsien, asook ‘n drankwinkel, kroeg en restaurant.

 

Leeukrans swembad.
‘n Toegangsfooi per persoon per dag is van toepassing vir die gebruik van die swembad, betaalbaar by die winkel, dit wissel na gelang van die seisoene. Wegneemetes en drankies kan by Leeukrans restaurant  en kroeg bestel word en lang die swembad geniet word. Daar is ook braaigeriewe, tafels en stoele langs die swembad area.

Swembad ure:
Maandag tot Saterdag: 09:00 – 17:00
Sondae: 09:00 – 14:00

 

Leeukrans winkel voorsien aan die basiese benodigdhede.
Somer besigheidsure:
Maandag tot Donderdag 07:30 – 17:30
Vrydag en Saterdag 07:30 – 18:00
Sondae 08:00 – 14:00

Winter Besigheidsure:
Maandag tot Donderdag 07:30 – 17:00
Vrydag en Saterdag 07:30 – 17:30
Sondae 08:00 – 14:00Boskos wildsvoer is te koop by Leeukrans winkel, vra by die toonbank.

 

Leeukrans drankwinkel besigheidsure:
Maandae 11:00 – 17:30
Dinsdag tot Donderdag 09:00 – 17:30
Vrydae 09:00 – 18:00
Saterdae 09:00 – 17:00

 

Leeukrans kroeg en restaurant.

 

Die gemeenskaplike area.
In die dorp is die gemeenskapsaal, speelgrond vir die kleingoed, jukskeibane, gholfoefenbof en biblioteek.

 

Eden is ‘n plekkie van salige stilte tussen die bome.
Hier kan jy rustig op ‘n bankie kan sit en die natuur geniet.  Vanaf die jukskeibane stap jy rigting suid, oor dié bruggie om by Eden uit te kom.

 

Die dorp se dam, ook bekend as die Eendedam, in Cliviapaadjie.
Daar is ‘n bankie onder ‘n afdak waar jy kan sit en die natuurskoon geniet terwyl jy kyk hoe die wild in die dorp kom water drink.

 

Die sonsondergang-uitkykpunt, hoek van Kieriklapper- en Kareepaadjie.
Hier kan pragtige bosveldsonsondergang geniet word.

 

Die uitkykpunt in die 823 ha wildskamp. 
Jy kan ver oor die bosveld kyk in Thabazimbi se rigting.  Die pad na die uitkykpunt is baie klipperig, maar kan stadig deur ‘n gewone motor aangedurf word,  alhoewel ons ‘n 4X4 sou aanbeveel. Die asemrowende uitsig maak wel op vir die pad.

 

Die grootste gemete Huilboom in Suid-Afrika is te sien in Leeupoort  Vakansiedorp se wildskamp.
Hierdie bladwisslende bosveld boom “huil” wannner dit seerkry. Dié unieke boom skei ‘n sap af wanneer die bas of takke beskadig word. Dit is nogal ‘n belewenis om rustig op die bankie te sit, omring deur die bosveld en na dink oor die skepping, natuur en die lewe van hierdie besondere groot boom.  As jy geïntresseerd is in inheemse bome, is Leeupoort die ideale plek om onderskeie bome uit te ken. Leeupoort het ongeveer 114 boomspesies, daar is min plekke in ons land waar daar so ‘n groot verskeidenheid bome op een plek groei.

 


Leeupoort Vakansiedorp se Bosdam.
Hierdie is die dam in die wildskamp van Leeupoort Vakansiedorp  – visvang en jag in Leeupoort is streng verbode.

 

Leeupoort Vakansiedorp Parkrun.
Leeupoort Parkrun is ‘n 5 km pretloop / hardloop teen die klok. Almal doen dit vir die genot daarvan. Kom sluit gerus aan en geniet dit teen jou eie pas. Die afsnytyd is 1 uur 20 minute. Leeupoort Parkrun is elke Saterdagoggend om 07:00, Oktober tot Maart en 08:00 April tot September.